Woorde

Sing-sing

Ek weet dit is iewers.

Ek staan voor die boekrak en staar en soek , na die oranje buiteblad.

FAK sangbundel.

Wil darem net verduidelik .. ek sing vreeslik graag. Ek het geen kennis van geen kant oor musieknote en dinge nie.. ek onthou soms wysietjies en dan weet ek nie vanwaar  nie , dan moet ek dit neurie- ongeag of dit in die middel van ons ete óf in die middel van die nag is as iemand reeds liggies wegsluimer.Dan kry ek nou nie juis ‘n staande ovasie van waardering nie.. net ‘n ” liewe d…nr vrou ! wat nou?” Skrik hy sy skrikte in kruie.Lank terug het ek altyd wakker geword met ‘n wysietjie in my kop ..wonder waarheen het dit verdwyn!

Nou ja hier staan voor in die Bundel, dit het ‘n ronde R4-00 gekos . Die druk was seker so na 1969. Ek blaai maar na SLUIMERLIEDERE.

Kan darem ‘n paar herken . Lamtietie damtietie, Slaap my kindjie slaap sag,  Pikaninie-wiegelied . Sal darem Mia aan’t slaap kry . Ek weier om Siembamba mamma se kindjie vir haar te sing – toetentaal te agressief !!

Ek vra nou die dag vir die jonge Moeder “Sing jy darem vir Mia?”  Sy maak my hart toe so bly met haar onmiddellike antwoord  met ‘n’ ja’. Ek weet mos die kind sing nou nie eintlik nie. “Wat sing jy vir haar?”  Ek was toetentaal omgetik met ‘n veer met haar eerlike antwoord  – Ma, al wat ek op daardie oomblik kon aan dink om vir haar te sing was “Die Onse Vader”

Vanoggend vroeg het ek met haar gesels  sommer oor die klein mensie wraggies al ‘n maand oud is en ek het darem vir die Ma die hoop uitgespreek dat in die tydperk van die volgende 11 maande sal haar repertoire  aan Wiegeliedjies hopelik al uitgebrei het . Nou nie dat ek ‘n probleem het met die plegtige gebed nie.

Ek weet sy’s nou nie eintlik vreeslik nootvas nie, vra ek darem belangstellend ” het jy darem die wysie onthou?”

“Ja, Ma – so halfpad deur die singery – maar toe tjank ek sommer my oë uit!”

 

16 comments on “Sing-sing

  1. scrapydo
    Julie 5, 2014

    Dis te pragtig. Mia sal nie omgee vir die nie nootvas moeder nie. Dar is altyd vir my gese ek kan nie sing nie! As ek alleen is sing ek heeltemaal goed genoeg om te kan byhou. Ek is mal or sing maar die negatiewe het maar vasgesteek. So Mia gaan gladnie hoor dis nie reg nie!

    Liked by 2 people

    • ddupl3ss1s
      Julie 5, 2014

      Ek dink net as mens van sing hou ..maak dit nie eens saak van nootvas nie, ons 4 kinders het altyd lekker saam met my Ma gesing.

      Like

      • scrapydo
        Julie 5, 2014

        Jong, my twee susters en my ma sing of het goed gesing. As ek saam sing word daar skeef gekyk! Toe ek weg is uit die huis was my nootvasgeit ook sommer baie beter. Is maar soos met wiskunde. Ouers se gedurig oo jy kan dit nie doen nie. Outomaties kan mens dit op einde nie doen nie. Jare se skoolhou het my al bewys dat negatiewe inligting wat n kind hoor meer indruk maak as positiewe

        Liked by 1 person

  2. coetzee2014
    Julie 5, 2014

    Ja, daardie sang- en musiektalent, het my ook verby gegaan. Ek is gelukkig ´n baie suksesvolle luisteraar. Radio Rosestad my gunsteling stasie. Ooo, Mia is baie bevoorreg.

    Like

    • ddupl3ss1s
      Julie 5, 2014

      Dit is wat ek ook bedoel daardie luister en geniet, maar alle musiek is ook nie maklik op die oor nie..soms is ek so teleurgestel as ek die mooiste naam hoor van ‘n sang/musiekstuk – dan is dit so verbitterlik moeilik verteerbaar. Ek hoop net teen Mia op haar voete is, dan kan ek nog heupswaai..jimmel dit sal jollie wees!!

      Like

      • coetzee2014
        Julie 7, 2014

        ja, wat hoekom sal jy nie die heupswaai ding kan doen nie.Daardie kinnertjie is baie bevoorreg .

        Like

  3. Jeanné
    Julie 5, 2014

    Geniet Mia en sing vir haar uit volle bors! Hierdie kosbare tyd gaan so gou verby. My twee ‘Miatjies’ word more al ‘n hele 10 jaar oud.

    Like

    • ddupl3ss1s
      Julie 5, 2014

      Ek kan nie dink nie… ai mooiste dag vir julle almal en geniet die wonderlike dag. Dankie vir die saamlees.

      Like

  4. rondomtaliedraai
    Julie 5, 2014

    Ag ja mens moet van die begin af sing … Soos my sus hierbo sê ons het altyd in die kar gesing, maar sy lieg oor die skeef aankyk… maar reg oor die Wiskunde ons is almal vrot daarmee.

    Like

    • ddupl3ss1s
      Julie 5, 2014

      Ha ha .. Wiskunde het ek verplig moes doen (ek dink destyds tot standerd 6 of 7) daarna vakkeuse – en ek kon nie insien waaroor was a en b deel van syfers nie tot die hoeveelste mag – ag nee wat nie dat ek juis geblom het in Duits nie..

      Like

      • rondomtaliedraai
        Julie 5, 2014

        Dis wat ons ook gedoen het en tot vandag trek ek my skouers op oor die a en b ding en vra vir iemand wat kan om my te help

        Liked by 1 person

      • scrapydo
        Julie 5, 2014

        Die Wiskunde was ook nie my sterk punt nie, Duits het ook maar gesukkel. Vandat ek egter graad een kinders moes leer optel en aftrek het ek self ook geleer om op te tel en af te trek. Selfs my tafels is nie te sleg nie. Juffrou moet darem die antwoord ken as sy die vrae vra!

        Liked by 1 person

  5. perdebytjie
    Julie 5, 2014

    Ek onthou nog hoe my pa vir my gesing het.Dis meer as ‘n halwe eeu gelede en dit bring steeds wonderlike herinneringe.Dit sal diep indruk maak,al kan jy nie noot hou nie!

    Liked by 1 person

    • ddupl3ss1s
      Julie 6, 2014

      Klink vir my jy het mooi herinneringe van jou Pa. Dit is kosbaar .

      Like

  6. katrina
    Julie 6, 2014

    Ek het baie vir my kinders gesing – om hulle sowel as my aandag op iets anders te fokus, of om hulle aan die slaap te kry. Ek kon net nie oor my hart kry om Siembamba se oorspronklike woorde te gebruik nie en het dit dus aangepas om positief te wees.

    Liked by 1 person

  7. ddupl3ss1s
    Julie 6, 2014

    Lank terug se dagkindertjies het die liedjie ook maar iewers te lere gekry ..hul het so met lekkerkry ‘trap op sy kop ‘ gesing .. dat ek dit daar en dan verbied het.. ai toggie..

    Like

Lewer kommentaar

Information

This entry was posted on Julie 5, 2014 by in musiek.

Blog Stats

  • 36 503 hits