Woorde

Die man met die Kopdoek.

Daar is ‘n paar manne wat ek ken – of liewer kennis dra van – wat kopdoeke dra.

  • Die man met die stem wat  Politieke kommentaar lewer.
  • Die narkotiseur , hier terplaatse . Hy’t glo sulke  moerse bo-armspiere dat my geliefde net stilgebly het, toe hy wel kon kla –  daardie naald in die aar wat  pynigend was. Hy’t maar sy swygreg behou,  so al kykend na die man se spiere en gedink aan Simson .
  • en die ander een Mnr. M. Die kind se pasiënt.

Vroeg een oggend het hier so gedaan motor op ons sypaadjie gestaan, lank voor spreekure.

Hulle, die mense in die gedaanmotor, het gewag vir die vrou wat voete moet red wat soms nie meer gered kan word nie.

Die man se voete was gedaan, diabetiese sere, so erg dat sy GP aanbeveel het hy moes dié oggend hospitaal toe vir amputasie van die een voet.

Hy gryp toe die laaste strooihalm. Sy ou vriend het hom vertel van die jongvrou oppie hoek, sy voet was amper moer toe en toe red sy,  sy voet.

Dit was die strooihalm. Die ou drinkerspêlle  om die ‘pooltafel’ – wat almal ‘n draai hier gemaak het met Diabetes en voete wat wou afval. Wonder bo wonder is al drie darem nog op die been.

Sy’t na sy voete gekyk en plegtig verklaar Meneer M, hierdie een voet kan ons moontlik red maar hierdie ander een? Dit is toe wat Meneer M met die kopdoek so ewe kalm sê ”  ..dan moet ons maar bid vir die voet, en kyk”

Sy vertel vir my , dit het so stilgeraak , nie geweet of sy moes lag of huil  oor die opregtheid van die man se woorde nie.

Meneer M is baie lank. Maer. Hy loop so met sy heupe soos John Wayne.So ‘swing’ in sy stap. Dan dra hy nog ‘n kopdoek met die lang vaal blonde hare wat uitloer in sy nek. Sy gesig wys die tekens óf van swaarkry óf van woeste jeugjare.  Twee tande weg in die onderkaak dit keer hom nogtans nie om breed te glimlag nie.

Een oggend toe hy hier instap met sy heupswaai, bietjie te vroeg, vertel hy so ewe drogies vir my – :

“Jis Mevrou, sy’s goed hóór!” met duidelike bewondering in sy stem.

“Jis Mevrou, sy’t so na my voete gekyk en uitgevra oor my suikertelling en hoeveel ek drink…jis Mevrou sy’s goed.Ek weet ek het baie gedrink. maar nie meer nie Mevrou”

Ek het groot bewondering vir enigeen wat met wonde kan werk , en die grootste vreugde wat sy daaruit put om vir my agterna te vertel –

“Ma, daai gat was só groot en só diep.. dit was só cool, as hy sy groottoon beweeg kon ek sy tendon sien beweeg!”  Haar Ma het nie gedink haar dogtertjie sal ooit dink so iets is cool nie!!!

Meneer M het elke week getrou gekom vir sy wondversorging. Gratis. Ag hulle is verbitterlik arm, “Ma, hoe kan ek vir hulle geld vra?” Ma verstaan , en Ma dink aan jou  Barmhartigheidssindroom en so aan..

Eendag het die gedaanmotor gaan staan sonder brandstof. Meneer M met sy gedaanvoete het kilos gestap kannetjie in die hand , daar is al die harde werk van pamperlang en salwe en wondversorging glorie toe en volgens haar”  het die tendon gesnap” die tendon wat een van die toonbeentjies moes vashou glorie toe..daar lê die beentjie toe so en kyk vir haar.

“Meneer M, nou kan ek nie meer help nie, dit is buite my veld, daardie beentjie sal chirurgies verwyder moet word anders gaan die wond nie genees nie”. en die Meneer dink net aan amputasie en hy weier en  maak dit gebedsaak .

“Ma, ek lê wragtag wakker oor my pasiënt se wond”

Vandag kom Meneer M hier in geheupstap, die gedaan voet wat die Voetemens gedink het die skrif is aan die muur  – die voet met die gesnapte tendon en toonbeentjie op die loer – die voet is besig om te genees. Hy haal toe sy ‘soewenier’ uit , op sy handpalm die beentjie. Sy vrou het dit  maar met ‘n tweezer  uitgehaal!!

Ek hoor hy gaan glo gaatjie in beentjie boor..en om sy nek hang !

Ai ai, die Man met die Kopdoek met die toonbeentjie om die nek! Hy het my groot vreugde verskaf, al het Die Voetevrou gekla , “Die mense moet besef ek’s nie ‘n wonderwerker nie, maar vertel nou vir hulle en hul pêlle?”

 

 

 

 

 

 

36 comments on “Die man met die Kopdoek.

  1. Net Ek
    Januarie 29, 2015

    Genade tog. Met ‘n TWEEZER uitgehaal???? Ek wil omkap as ek net daaraan dink!

    Jou dogter het ‘n mooi hart…

    Liked by 2 people

    • ddupl3ss1s
      Januarie 29, 2015

      Daardie mense vat nie nonsies nie.. dapper donners!! Ja jong, ek het al vir my man vertel, sy sal sekerlik in die Hemel beland veral oor haar jammerhartigheid.. hul sien nie hoe hartseer sy raak as pasient op ou end na amputasies oorlede is. Ai tog, die een pasient is gratis behandel, sy vrou het vir haar spreekkamer die mooiste handdoekies persent gegee.

      Liked by 2 people

      • Net Ek
        Januarie 30, 2015

        As mens goed doen vir ander kom dit altyd tien keer terug na mens toe!

        Liked by 1 person

  2. Skeletor
    Januarie 29, 2015

    Snaakse ding: op Facebook op my ipad is jou kopdoek post, en regonder dit is ‘n Idees Vol Vrees spotprent oor kopdoeke…

    Maar op ‘n ernstige noot: Ek dink daai man met die kopdoek was seker goed geswaai toe daai beentjie uitgehaal was…

    Liked by 1 person

    • ddupl3ss1s
      Januarie 29, 2015

      Jong, so ‘n voet het mos naderhand nie meer gevoel nie.. so ek dink dit was dalk nie nodig nie.. intelligente siel, omstandighede wat soms op mense se pad kom wat die verval tot gevolg het of armoede ..ai tog , jy kan nie dink hoe bly is Mnr M nie, foeitog man.

      Like

  3. Spokie sny spoor
    Januarie 29, 2015

    Oulike storie. Mooi van haar om die mooi kant van haar hart te vertoon.
    Ja, hartseer as mens jouself so doodmaak.

    Liked by 1 person

    • ddupl3ss1s
      Januarie 29, 2015

      Jong ek weet nou nie of alkohol verbruik darem die ellende te weeggebring het nie, dink net bloedsirkulasie is dan swakker, en as jy so pyn , en pynpille help nie – dan gryp jy seker maar na ander verdowing, hul kry darem almal ‘n sedepreek , vir wat dit werd is.

      Liked by 1 person

  4. Xena Phoenix
    Januarie 29, 2015

    EINA!!

    Ek het ‘n taamlike sterk maag, maar daar is perke. Dapper gewis.

    Liked by 1 person

  5. carolredelinghuys@Losbek
    Januarie 29, 2015

    O aarde vir die gaatjie in die beentjie! Jikkie!!!!

    Liked by 1 person

  6. Die Toortsie
    Januarie 29, 2015

    En jy het my nou baie plesier verskaf, dankie.
    Sjoe, jy kan lekker skryf.

    Die politieke kopdoekman wou my nie sy kopdoek leen om my grys hare te bedek nie, hy sou eerder self na die jongmenspartie wou gaan met sy kopdoek en al.

    Liked by 1 person

    • ddupl3ss1s
      Januarie 29, 2015

      Die narkotiseurs dra so kopdoek met landsvlag.. het jy al ooit die man sonder sy kopdoek gesien? Dankie Toorts vir die kompliment oor die skryf.. aarde die storie moet naderhand geskryf word.. ek loop al weke met mnr m,se storie . Dit brand naderhand.

      Like

  7. Die Toortsie
    Januarie 29, 2015

    Ek wou die stuk op my faceboekblad gaan plak, maar ek werk met my fpuntjie en hy sê hy willie nou nie.

    Liked by 1 person

  8. anetteolivier
    Januarie 29, 2015

    Ag nee rerig. As daai beentjie so vir my geloer het, het ek seker winduit langs die bed geval. Die ou maag kan nie meer sulke dinge hanteer nie. Nogtans ‘n dem goeie storie – soos gewoonlik. Kan amper voel hoe seer is die man se voet. 10/10 vir jou Kinta. Reguit hemel toe sonder ‘n afdraaipad en dorings…..

    Liked by 1 person

    • ddupl3ss1s
      Januarie 29, 2015

      Die pyn is gewoonlik op daardie stadium in die kuit, maar lyk darem of hy sy voete sal behou- probleem is as daar geen gevoel is trap jy soms op iets en klein stukkende plek raak later probleem,

      Like

  9. rondomtaliedraai
    Januarie 29, 2015

    Sterkte vir die Donderdag

    Interessante mense wat julle daar kry!

    Liked by 1 person

    • ddupl3ss1s
      Januarie 29, 2015

      My kind praat van ruwe diamante..steeds diamante so effe ongeslyp. Dankie vir die sterkte, hy sê hy voel nou nie juis siek nie maar beslis ook nie lekker nie..

      Liked by 1 person

  10. scrapydo
    Januarie 29, 2015

    Nou het ek weer lekker hier by die ou vrou op die hoek gekuier. Dankie vir die heerlike koppie koffie en die “uitstort” van jou gedagtes wat al so lankal in jou kop draai. Sodra dit op skrif is voel mens sommer ligter. Jy het self n juweel van n dogter. Groete aan haar en ook n groot dankie vir die goeie werk wat sy doen

    Liked by 1 person

    • ddupl3ss1s
      Januarie 30, 2015

      Die ou vrou van die hoekhuis sukkel soms om te blog, en dan skielik gaan daar weer ‘n liggie aan – dankie vir die mooi woorde, jy weet dit bly maar salf vir die ou siel. Ek dink soms karakter word seker nie net gevorm met opvoeding soms is daar genetiese oorwerwing ook tersprake – dit is nou wanneer dwarsgeite toegeskryf woord aan die voor- familie ,ha ! Jammerhartigheid is sy seker maar hier gevoer so lepeltjiesgewys saam met Nestum.

      Like

      • scrapydo
        Januarie 30, 2015

        He he, ja jong. Mens hoef ok nie alles te moet bewys waar dit vandaan kom nie. Wat die blog betref gaan dit hier ook so. Skielik kom daar so n gevoel of idee op en dan moet dit maar net gebeur. (Soms vat dit tot weke om te wil gebeur)

        Liked by 1 person

  11. HesterLeyNel
    Januarie 29, 2015

    Ja, ag ek wens ek kan ook so ‘n goeie voetdokter raakloop. Ingroeitoonnaels kan ‘n mens se lewe versuur, so nes asof ouderdom self nie genoeg is nie. Dis lekker om iemand te ontmoet wat so bly is oor haar dogter as wat ek is oor myne – ek raak eintlik vreeslik vervelig as ek oor my dogter begin gesels. Dis net, sy is so dêm oulik.

    Liked by 1 person

    • ddupl3ss1s
      Januarie 30, 2015

      Kinders bly kosbaar en om kinders te kan hê, is groot genade.

      Like

  12. Kameel
    Februarie 5, 2015

    Wonder hoeveel mense lewe rêgtig die gawe wat God in hulle gesit het uit. Jou dogter lewe haar gawe, en dit is wonderlik om dit te hoor. Dankie vir die vertelling, puik soos altyd. Kannie help om oor daardie beentjie wat met ‘n tweezer uitgehaal is, te glimlag nie.

    Liked by 1 person

    • ddupl3ss1s
      Februarie 5, 2015

      Lees vanoggend op haar podiatrist blad ” I love it when a wound comes together” net voetmense wat vreugde put as gate heel. Ons is dankbaar oor haar medemenslikheid.

      Liked by 1 person

  13. Lewies Mymer
    Augustus 25, 2015

    Tawwe mense daai! Die legendariese Van Helsdingens se kaliber!

    Liked by 1 person

    • ddupl3ss1s
      Augustus 25, 2015

      Ek het gehoor sy kry selfoonfotos van sy voet en tot sy in agtergrond die groot bottels bier sien… toe word hy getref met erge skrobering , as mens se voet al wil afval…moet jy beslis nie weer terugval alkohol toe nie- en dan kry hul swaar ???

      Liked by 1 person

  14. Toortsie
    Augustus 25, 2016

    Fantasties geskryf, fantastiese werk, maar regtig, hoe GRIL EK NOU!

    Like

    • ddupl3ss1s
      Augustus 27, 2016

      Dankie vir die kompliment oor die skryf..ek waardeer opreg. Die kind is destyds getoets , Voete of Odiologie.. sy wou eerder Sielkunde – voorligter /toetser , het genoem soms moet jou keuse val op skaarser beroepe . Soms verstom mens jou ook maar in stilte oor kinders se beroepskeuses.

      Like

  15. Toortsie
    Januarie 30, 2018

    Dis so ‘n mooi storie, dit was lekker om hom weer te kees.

    Like

    • ddupl3ss1s
      Januarie 31, 2018

      Ek raak deesdae sentimenteel oor ou skrywes! Dankie vir die herlees.

      Liked by 1 person

      • Toortsie
        Januarie 31, 2018

        Ek sien om een of ander redes nie jou skrywes in my reader nie, ek weet nie hoekom nie, ek is tog een van jou volgelinge. Dit is baie simpel, so ek weet nie altyd hoe om by jou goed uit te kom nie. Daarom was dit so lekker toe ek hierdie op jou facebook sien.

        Liked by 1 person

  16. Abrie Joubert
    Februarie 2, 2018

    Ek moes destyds hierdie een getag het maar nie toe daarvan geweet nie. Merkwaardige verhaal deur merkwaardige skrywer. Had ek maar die tweezer gehad om hierdie verhaal raak te vat

    Liked by 1 person

    • ddupl3ss1s
      Februarie 5, 2018

      Soms kry ek onverwags trane in my oë , en dit oor ;n kommentaar soos hierdie. Die oude vrou van die Hoekhuis wens tog so die bloggogga skrop weer nes… Nietemin, opregte waardering vir jou lees en kommentaar. Groetnis

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Information

This entry was posted on Januarie 29, 2015 by in Gedagtes vir die dag..

Blog Stats

  • 36 520 hits